Friday 17 May 2013


Dorie en die Bergdromer (Deel 2)

Soms knor dit in Kammaland

En so, tussen die laggies, die drome, die lief en die leed, slaat die lewenstorme almaardeur woedend om ons heen, wie of wat ons ook al is. Die sensitiewes en swaarmoediges onder ons tjop by uitstek af. En om seëninge te tel, help nie juis as jy klaar diep in die donker gat sit en die branders oor jou kop breek nie ...

‘n Siniese eks-kollega verwys alte graag smalend na die buurt waar ek woon as “Kammaland”. En dit laat my onwillekeurig aan daardie fraaie liedjie uit ons prille jeug dink. (Onthou julle – iemand speel die deuntjie uit die FAK op die klavier, terwyl almal so weemoedig en effe trekkerig saamsing?)

DIE BOOTJIE NA KAMMALAND

Woorde: EITEMAL
Musiek: C.M. VON WEBER; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1977

Hoe sag gly ons bootjie, en wieg heen en weer
op golfies wat dein oor die maanblanke meer!
Met kommer en sorge gelaat op die land,
wuif ons aan die vriende vaarwel met die hand.
Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,
en wys ons die weg wat na Kammaland voer;
dis oos van die son en dis wes van die maan,
die land waar die jonkheid mos nimmer vergaan.

Die sterre staan hoog aan die hemel op wag,
en strooi oor die water hul tint'lende lag.
Die windjie is wakker, hy suis langs ons oor
en dans op die maanpad wat flikker hier voor.

En ruisend kom sit op die agterskip nou
die sluimer met albei sy vlerkies gevou.
En wiegende kom ons in Kammaland aan,
ver oos van die son en ver wes van die maan.


Maar liewe eks-kollega, vergeet van “oos van die son en wes van die maan”. Laat ek dit nou maar vir jou in enkelstreep– Gotiese blokletters uitspel: hier in ons gewaande Kammaland, Noord van die Boereworsgordyn, knor dit van tyd tot tyd, en sommer kliphard daarby.

Soms “suck” dit só erg om mens te wees dat jy soos ‘n uitgebrande “sparkler” op Guy Fawkes voel. En dan stem ek roerend met met my pa saam: “Die lewe is nie ‘n Sondagskoolpiekniek nie.” (Gits, noudat ek daaraan dink - was ‘n Sondagskoolpiekniek al ooit lekker? Maar ek dwaal af.) Scott Peck stel dit ook baie duidelik, sommer aan die begin van sy beroemde boek The road less travelled, dat die lewe nie vir sissies is nie.

As “the dark night of the soul” toesak, om watter rede ook al, wat is daardie “iets” wat ‘n mens laat voortgaan? Wanneer dit voel of jy niks meer het om te gee nie, “when you are running on empty?” Geloof in ‘n Opperwese, hoop “that this too shall pass”? Of daardie 1 Korintiërs 13-liefde wat alles oorwin?

“I want to know if you can get up after the night of grief and despair
Weary and bruised to the bone
And do what needs to be done
To feed the children”

En verder:
“I want to know if you can see Beauty
Even if it is not pretty every day.
And if you can source your life from its presence”

Kan jy sin maak uit dit wat met jou gebeur, is daar ‘n les uit te leer? Ek dink altyd aan wat Viktor Frankl gesê het – as jy die “waarom” kan beantwoord, kan jy feitlik enige “wat” hanteer.
“I want to know if you can sit with pain
Mine or your own
Without moving to hide it
Or fade it or fix it …

“I want to know if you have touched the centre of your own sorrow
If you have been opened by life’s betrayals
Or have become shrivelled and closed for fear of further pain.”

Ek het nie regtig antwoorde nie – nie vir my nie en, helaas, ook nie vir jou nie. My vrae is blote klippies in die bos. En ek wens maar net dat die wakker, suisende Kammaland-windjie (al die pad van “ver oos van die son en ver wes van die maan”) eendag op ‘n reëndag die antwoorde in my oor sal kom fluister …

Al wat ek weet, is dat die grootste uitdaging en krag van menswees daarin lê om steeds oop te maak, oop te bly ná seerkry, en nie sommer maar net stilletjies dood te gaan nie.

Vir my help dit om die woorde “nogtans sal ek jubel” soos gebedskrale om my nek. te hang. Dit kom uit Habakuk 3:17 & 18. (Terloops, ‘n gelyknamige bundel deur Audrey Blignault is deur hierdie verse geïnspireer.)

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”

Al gaan dit soms tos in Kammaland, die Kaap of Kakamas, om van Keimoes, Kaapmuiden of Kanada nie eens te praat nie, sal ek steeds my “joyful noise” probeer maak, al kan ek nie sing of klavier speel nie, en al staan juffrou Farmer dreigend nader met die FAK!

No comments:

Post a Comment