Wednesday 23 October 2013

Pestilisensie Deel 1

Die onderstaande treurmare (en aflewering wat daarop volg) is op Vrydagaand 18 Oktober 2013, in effense verwerkte vorm (getiteld “Vonke, fiasko’s, vrede en vreugde”) aan ‘n verbysterde, kopskuddende gehoor voorgedra. Die geleentheid was die jaarlikse Vonkelvrou-geleentheid van die Hoërskool Durbanville. Toe ek nog baie jonk was, het ek telkemale gehoor hoe my pa vir my vrome moeder sê: “Daai kind (dis nou ek) moet tog nooit agter die wiel van ‘n mouterkar beland nie, want sy het geen ‘road sense’ nie.” Ek glo my pa het werklik my veiligheid op die hart gedra –– hy’t immers gesien hoe ek kop in die wolke in die strate rondwandel, al pratende met myself …. Hy het my selfs verbied om fiets te ry terwyl ek op skool was. Ek moes dus maar vir dapper en stapper inspan, maar het steeds heelwat motoriste se bloeddruk die hoogte ingejaag as ek ‘n straat sommer net blindelings oorsteek. En vandag is ek kort duskant bejaard, met twee leerlinglisensies ná altesaam vyf probeerslae (wat natuurlik reeds verval het), vier doppe (soos in bestuurstoets dop), drie karre later en derduisende rande armer – en steeds het ek nie ‘n lisensie nie. Vir die eerste twintig-plus jaar van my naskoolse lewe was dit nie juis ‘n probleem om ongelisensieerd te wees nie. Op Stellenbosch, en later in die Paarl, was ek binne loopafstand van alles en almal en, wanneer nodig, het ek flink op ‘n fiets of ‘n trein gespring en soms selfs ‘n taxi-bussie aangedurf! Maar in Durbanville het my turf begin sit, veral met kinders wat rondgekarwei moes word. En dus het vriend en vyand my met hernude ywer aangemoedig om tog maar daai lisensie te probeer kry, my pa se aanvanklike bekommernis ten spyt. Maar dit het jare geduur voor ek die moed bymekaar kon skraap … ek was 40 toe ek die eerste keer my leerlinglisensie gedop het, en 41 toe ek etlike paaltjies op Citrusdal se toetsterrein in hul maai gery het! Ek moet bieg dat ek werklik goeie instrukteurs gehad het, geesdriftig aanbeveel en opgehemel deur einste vriend en vyand. Soos in: hy verrig wondere met die moeilikste gevalle, as sy my suster kon leer bestuur, kan sy enigiemand leer (selfs ‘n bôjaan, by implikasie), al sy leerlinge kom altyd deur, sy is ‘n meer volwasse dame wat jou “hang-ups” sal verstaan … hy het al drie my dogters geleer, en hulle het met die eerste probeersdeurgekom andekom … “Ja well, no fine …”

Arme Kiepie die Cowboy was my eerste slagoffer – met die grootste vrymoedigheid aanbeveel deur die beampte wat my eerste leerlinglisensie aan my toegeken het. Ná ‘n asemrowende vertoning tydens myself en Kiepie se eerste les, het hy lank stilgebly, en toe gekug en gesug: “Kyk ouvrou, met jou gaan dit la-a-a-ank vat, seker so ongeveer 57 lesse!” En toe hy my afgehaalde tronie sien, voeg hy vinnig by: “Die internasionale standaard is jou ouderdom plus nog 17 lesse. Dus: 40 + 17 = 57.” En ek kon sommer sien hy dink selfs dit sal nie naastenby genoeg wees nie. “Jy moet net sê of jy kans sien.” (Terwyl hy lyk of hy eintlik wil weghol.) “Ek sal baie geduldig met jou wees …” Om ‘n lang, spannende storie kort te maak, arme Kieps se geduld en sprankelende humorsin het nie vrugte afgewerp nie.

No comments:

Post a Comment