Sewentiende Laan in Bellville – opgedra aan tannie Doreen
Nou nog, as ek
aan haar dink, hoor ek haar aansteeklike lag, onthou ek haar groot-groot hart … én daai blou kewertjie, waarin ek ook
dikwels rondgekarwei is … (Sy het vir daai einste kewertjie ‘n garage laat bou,
en toe ‘n paartie gehou om dit in te wy. Só is tannie Doreen – sy vier die
lewe!)
Almal weet van Sewende Laan in Melville, maar ék ken
vir Sewentiende Laan in Bellville.
Laat ek julle bietjie vertel: sien, selwers het ek
het in Sestiende Laan grootgeword …
Een warm somermiddag in 1965, toe ek in Sub. A was,
loop ek ‘n kordate dogtertjie met ‘n kortbroekie en spierwit poniestert op die
hoek van onse Laan en Bostonstraat raak. Ek herken haar as een van my
klasmaats. Sy lig my ewe geselserig in dat sy eintlik baie naby woon (“net ‘n
straat óp”), en noem terloops dat ek gerus ‘n bietjie kan kom speel. Só het ek
en Elmarie maatjies geword, en ons is steeds maats, al woon ek in die Kaap en
sy in Kanada.
Ek kan nie my eerste ontmoeting met haar ma, tannie
Doreen, onthou nie, maar haar reputasie dat sy “regtig ’n gawe vrou” is, het
haar vooruitgeloop. Sy was ‘n baie slim, goed gekwalifiseerde verpleegsuster,
eers by Karel Bremer en later by Tygerberg Hospitaal. Dus was sy nie by die
huis as ek in die week daar gaan speel het nie. Ek het haar eintlik oor naweke
leer ken.
Tannie Doreen het in ‘n weeshuis (in George, as ek
reg onthou) grootgeword. Elmarie het graag vir my vertel dat, toe die Nasionale
Party in 1948 die verkiesing gewen het, die huismoeder al die kinders rondom
die huisorreltjie laat staan en vir hulle “Dank God, ons land is weer vry” uit
volle bors laat sing het.
Ek het uit die staanspoor baie tuis by Sewentiende
Laan nommer veertien gevoel. Smiddae het ons skool-skool gespeel en soms vir die
huishulp, Sophia, geterroriseer om ‘seblieftog vir ons koffie te maak. Ons het
gesoebat, ons het haar gevlei en weer gesoebat tot ons ons sin gekry het … En as die kerkklok, ‘n paar strate ondertoe,
vyf keer slaan, moes ek vinnig huis toe hardloop, anders raas my ma.
As ek by Elmarie oorgeslaap het, is daar matrasse op
die eetkamervloer gesit, en twee slaapsakke het van iewers vandaan verskyn. Ek kan
onthou dat ons menige Vrydagaand op daai einste matrasse omgespring het, en
eers teen 3:00 die oggend van pure uitputting aan die slaap geraak het. En tannie
Doreen het nooit-ooit geraas nie (“anyway”, nie daaroor nie) … Sy het my
telkemale verseker dat ek soos ‘n kind in haar huis is. En ja, het Elmarie dan ook
soms ewe wysneusig beaam, haar ma is tog baie bly dat sy nie met ‘n “skollie-meisie”
bevriend is nie. En dan het ek altevol trots op mysigselwers gevoel!
Ek onthou vir tannie Doreen as ‘n besonder
liefdevolle ma. In die middel-sewentigerjare was daar ‘n grensoorlog en gerugte
van nóg oorloë en daarmee gepaardgaande hongersnood en ellende. My pa het ernstig
verklaar dat, as daar die dag nie meer kos is nie, hy darem sal kan sê toe dit
daar was, hy dit ganser harte geniet het! En ek het toe ook maar, met groot
onrus in my hart, by voorbaat weggelê om vir die maer jare te probeer voorsiening
maak. Tannie Doreen was egter doodkalm – sy sou nie toelaat dat háár kinders
honger ly nie, al moes sy vir hulle kos by die hospitaal steel! Vir my het dit
na ‘n baie praktiese, logiese oplossing geklink. Dit het getuig van opregte
moederliefde, en het ‘n ontuitwisbare indruk op my gemaak.
Vir my het dit dus altyd gelyk of tannie Doreen enige
krisis komkommerkoel die hoof kon bied!
Een Saterdag het ek ewe wintie met ‘n spierwit nuwe Crimplene-uitrusting
by die Louws gaan kuier, en toe ek my weer kom kry, is ek vol ghries-kolle!
Moenie my vra hoe dit gebeur het nie, maar ek was heel bevrees om só huis toe
te gaan, want my ma was nogal kwaaierig. Tannie Doreen het egter gou-gou ‘n
raat in ‘n boek opgespoor en ‘n paar uur later is ek met silwerskoon, winddroë
klere huis toe …
En toe een sonnige Saterdagmiddag “passeer” die
twaalfjarige uwe ‘n wurm. My onstelde moeder gee die ogedierte een kyk, prop
dit sonder seremonie in ‘n skroefbotteltjie en sê dringend: “Gaan vra vir
tannie Doreen.” Gedienstig sit ek die stukke in Sewentiende Laan toe, en toe ek
by nommer veertien inbars, is tannie Doreen ewe vrolik, met bengelende oorbelle
aan, besig om die een sitkamermuur skoon te was. “Tannie, ons het nou so
geskrik!” Rustig draai sy om en vra: “Nou hoe só, my skat?” Ek fluister my
skandelike storie in haar oor en oorhandig die skrikwekkende bewysstuk. Noukeurig
beloer sy dit, en identifiseer dit uiteindelik op grond van inligting in een
van haar boeke. En sy stuur my huis toe met mediese advies, ‘n bemoedigende
kloppie op die skouer en ‘n veel ligter gemoed.
Ek onthou ook die allerheerlikste kos wat sy in haar
kombuis opgetower het. En soms het sy ‘n skare onverwagte gaste met “toasted
cheese” verras – “at the drop of a hat”, soos my pa sou sê. Sy het ook gereeld
vir Mariannetjie met ‘n bakkie lekkernye na ons huis toe oorgestuur. Dan sê dié
so ewe skamerig: “My ma sê tannie Debora moet proe.” Só het ek die eerste keer
“beef olives” geëet, vir my ‘n uiters “eksotiese” ervaring in die baie vroeë
sewentigerjare!
Tannie Doreen het haar dogters na haar hand geleer.
Ek was sprakeloos van bewondering en afguns toe Elmarie al in standard vier kon
kosmaak en mense onthaal. Elmarie en Marianne kon ook van jongs af met die
wasmasjien en stofsuier werk. Seker dié dat Elmarie vandag nog so ‘n uiters
knap huisvrou (onder andere!) is, en ek op 54-jarige ouderdom steeds in die
stofsuier se koord verstrengel raak. Dis alles tannie Doreen se skuld – sy moes
my ook destyds geleer het!
Haar deur het aljimmers vir vriende, familie en bure
oopgestaan. Daar het hulle ‘n holte vir hul voet gevind, ‘n skouer om op te
huil, goeie raad of ‘n heerlike geselsie en kuiertjie.
Sy was altyd omring deur prettige, mense, laggies,
grappies, lighartigheid: ek dink aan Pieter Raubenheimer, Sannie, Stompie, Ryno
(oftewel Ry-later), Chris en Andrea. En daar was Abby en mnr. André Barnard
(maar hy het darem soms by ons Retiewe ook gekuier!)
Een van die heel prettigste gaste was sekerlik oom
Tarrie, haar jongste broer. As hy uit Pretoria kom kuier het, was dit letterlik
“a laugh a minute” totdat jou wangspiere later pyn. Ek onthou hoe ek, hy,
Elmarie en Wilma (wat nou in Nederland woon) een middag by Basil’s Superstore
in Twaalfde Laan was (naby die vrieskas met bevrore hoenders), toe hy luidkeels
soos ‘n haan begin kraai en sy arms op en af flap. Ek en Wilma was histeries,
maar toe Elmarie haar kop verleë van haar oom Tarrie wegdraai, weeklaag hy
luidkeels met so ‘n huilstemmetjie: “Elmarie, Elmarie, kén jy my nie meer nie?!
Ek en Elmarie het een aand, toe ons in standard 6 was,
die tranetrekker, Madame X, (met Lana Turner in die hoofrol) saam met tannie
Doreen en oom Tarrie by die Nobelpark-sentrum gaan kyk. Toe ek en sy ná die prent
huil-huil by die roltrap afstrompel, hoor ons ‘n hartverkeurende geween en
gekners van tande op die roltrap wat boontoe gaan. Niemand anders as oom Tarrie
wat sy snikke met ‘n handvol snesies probeer smoor nie! Toe hy by ons
verbygaan, sien ek daardie onnutsige glimlaggie en besef hy is besig om vir my
en Elmarie na te aap, tot groot vermaak van al die ander roltrap-ryers!
Oom Tarrie is later met Corrie getroud. Hul
eersteling kry toe die fraaie, betowerende naam, Genevieve. Ek onthou nou nog
hoe tannie Doreen byna stik van die lag toe sy my vertel “daai broer” van haar
noem die arme bloedjie sommer “Poepie”.
(Ek moet darem net noem dat Elmarie selwers ‘n
karaktertjie was. As ons op somermiddae van die Laerskool Totius af huis toe
moes loop, het die hitte altyd vir haar op presies dieselfde plek ingehaal:
voor ‘n sekere hoekhuis in Bostonstraat het sy dan haar tas op die sypaadjie
neergegooi en sonder verdere seremonie plat op haar rug onder die motor gaan lê
wat klaarblyklik permanent daar gestaan het. Dan het sy behaaglik geprewel:
“Aaaaaa, koelte en genade.” Dit is flink opgevolg met: “Nou kan ek met ‘n
glimlag op my gesig sterf.” Dan het sy opgespring, haar skooljurk afgestof en
die laaste entjie huis toe met hernude ywer aangedurf.)
Deur die jare heen het ek sporadies by die Louws aangedoen, en elke keer is my batterye herlaai. Ek het oor
daai huis gevoel soos ander mense oor Riaan Cruywagen – solank tannie Doreen en
oom Johan daar woon (én solank Riaan nog die nuus op TV lees) is die Kaap
Hollands.
Nou het Riaan afgetree, en tannie Doreen en oom Johan
woon nie meer in Sewentiende Laan nie. Maar ek droom nog baie dat ek daar gaan
kuier. En as ek op ‘n “trip down memory lane” gaan, soos nou weer, vind ek vir
‘n wyle ‘n holte vir my voet.
No comments:
Post a Comment