(Hierdie stukkie is gebaseer op ‘n “spietsie” wat ek een aand lank lank
gelede, in Oktober 2008, by die Hoërskool Durbanville se Vonkelvrou-aand afgesteek
het.)
Kyk, susters en niggies, maatjies en dalk ‘n ou nefie hier en daar – die
lewe is nou nie juis aljimmers vir my ‘n lied nie.
Nou hoekom is die lewe dan so dikwels nie vir my ‘n lied nie?
In die eerste plek is ek letterlik toondoof: In Sub. B is ek summier
uit die Lentedagkoor verban nadat die juffrouens dae lank kop gekrap het oor
die oorsprong van die wanklank te midde van die andersins jubelende tone. En in
die hoërskool het ek net-net my plek in die koor “verdien” deur tee aan te dra
vir die meneer wat die stemtoetse gedoen het.
In die tweede plek is ek maar so half swaarmoedig gebore. Toe die ander Sub.
A-maatjies tou en rek gespring het, aan-aan en donkerkamertjie, Barbie,
albaster, cowboys-and-crooks gespeel het, het ek so taks om taks smartlik aan’t
huil gegaan omdat die skool (en die ganse lewe) vir my soveel verwarring
ingehou het. Ek het alte dikwels met die verkeerde boodskappe by die huis
aangekom. So het ek, byvoorbeeld, vir my ma geld vir Bybelbestryding, in plaas
van Bybelverspreiding, gevra. En toe die juffrou versoek dat ons ‘n liniaal
moet aanskaf, was ek heeltemal “verbokkereerd” (familiewoord uit my ma se
geledere), want my vrome moeder het gewoonlik van ‘n duimstok gepraat.
Nodeloos om te sê, het my akademiese loopbaan nie juis met ‘n
oorverdowende knal “afgeskop” nie. Om te lees van Sus en Daan, Koeloe, Boef en
Kiet, en om daai doppies uit te pak om somme te doen (onthou julle nog, Sub.
A-klas van 1965?) het vir my net geen sin hoegenaamd gemaak nie. Ná ongeveer ‘n
jaar op die skoolbanke het die juffrou agtergekom ek memoriseer die leesles by
die huis, om dit dan in die klas te kom “opsê”! En my jare lange skermutseling
met Wiskunde het uiteindelik in standerd 7 op ‘n miserabele “whimper” uitgeloop
… met die H wat ek in die eindeksamen“behaal” het. My pa se ontploffing het
darem vir ‘n “bang” gesorg – hy kon hierdie kordaatstuk van sy oudste kind net
nie kleinkry en/of verwerk nie …
Verder moes ek dikwels hoor “Dorettie is ‘n vettie”. En nee, dit het op
sportgebied ook nie juis waffers gegaan nie – inteendeel! Noem maar op:
atletiek, (dwerg)tennis, netbal, die gevreesde “Liggies”-periode, hokkie en
ballet. Ek trek daar liefs ‘n sluier oor, ter wille van die sensitiewe leser (én
my fragiele ego). My pa het telkemale probeer preek oor ‘n gesonde liggaam wat
dan nou kwansuis ‘n gesonde gees sou huisves. En ek het maar net gewonder oor
my diep verwonde binneste, die gevolg van al die gespot oor my komieklike sportvertonings
…
Wat van klavier? In standerd twee het ek dié uitdaging heel paraat en geesdriftig
aanvaar en geoefen dat dit klap. Die juffrou was versigtig optimisties (soos
die politici van ouds) oor my “vordering”. Maar ai, net vóór my eerste
Unisa-eksamen, moker juffrou Farmer my met die FAK Sangbundel oor die kop omdat
ek my toonlere so nougeset in ‘n honnebrekfis omskep het. En ná die eksamen wou
sy nie eens my rapport vir my wys nie. Sy was glo bang die terugvoer sou my vir
ewig knak …
Maar boeta, daar was één gebied waarop ek uitgeblink het - as dit by praat
kom, was ek voor in die koor. Hierdie talent het my voortdurend in die moeilikheid
by die skool laat beland. Ek is oor die vingers geraps, in die hoekie laat
staan en reëls laat uitskryf – tevergeefs! Daar is spottenderwys na my as “Orreltjie”
verwys. En as die Retief-gesinnetjie Sondae ‘n entjie gaan ry het, het my
ma-hulle belowe om my te betaal as ek net om hemelsnaam sou stilbly. Aan die
ander kant het my ou moeder “delusions of grandeur” gehad en my aangemoedig om
Regte te swot, want met so ‘n “bek” moes ek doodeenvoudig ‘n “advokaat” word.
Wat, helaas, nie gebeur het nie!
Dit volg seker logies dat ek uiteindelik ‘n (kortstondige) flirtasie met
die verhoog sou hê. Maar ook hier is my gevoelige, romantiese, hoopvolle
sieletjie gekwes. Ek moes dekor verf, of anders is ek ge-“typecast” as nare
hekse, viswywe, uitgerafelde dames van verskeie kontinente en/of “cantankerous”
ou vrouens.
Teen hierdie agtergrond, dan nou die eerste aanhaling uit “The
Invitation”:
.
“I want to know if you can live
with failure
Yours and mine
And still stand at the edge of
the lake
And shout to the silver of the
full moon,
‘Yes!’”
My “yes” was ‘n skaterlag! Ek het begin om vir myself te lag (al het dit
dikwels aan histerie gegrens). Ek het geskitter in my onvolmaaktheid, ek was
die hoofspeler in my eie “comedy of errors”.
En daar haak ek af en skryf in standerd ses my eie drama, palm selwers
die romantiese hoofrol in (Rosabella, as ek reg onthou), met nie minder nie as
vier “lovelorn swains” wat verbete om my hand veg. En ons voer dit op (met die
hulp en bystand van my Afrikaans-onderwyser, mnr, Charles Fryer)! Om die een of
ander rede het die een gehoor na die ander dit egter as ‘n komedie in plaas van
‘n tragiese liefdesverhaal gesien, en bulderend gelag as hulle eintlik ‘n traan
moes wegpink. Ek het sekerlik my naam onherstelbaar met ‘n plank geslaan, maar “for
once” was ek ‘n romantiese heldin, en nie ‘n bose heks nie …
“It does not interest me how old
(or young for that matter) you are.
I want to know if you will risk
looking like a fool
For love
For your dream
For the adventure of being alive.”
(Word vervolg)
No comments:
Post a Comment