Sunday 3 November 2013

Pestilensie – Deel 2

Ná tien jaar probeer ek toe weer – woon selfs leerlinglisensieklasse by en kom die toets met vlieënde vaandels deur … Ek beland in die bekwame hande van Babsie Boonstra, die meer volwasse dame wat my “hang-ups” sal verstaan. Babsie het haar bes gedoen, maar ek dop nóg twee keer die bestuurstoets – en nóg twee keer is die vervlakste paaltjies in die jaart heeltyd in my pad. En toe rol die karretjie sommer ook op die koop toe, aldus die toetsbeampte, al wou ek haar nie glo nie … Ai, Babsie, Babsie – jammer vir die blapsie. Op dié perteks reken my seun ek moet die dienste van Speedy Gonzales en sy girl, Scheronda (met haar pieperige hondjie Piepsie), inroep. Speedy had skynbaar ‘n “track record” wat skrik vir niks – al sy leerlinge slaag – punt. “No ifs, no buts” … Wel, ek het Speedy en Scheronda se geduld tot die uiterste beproef. Die uwe het die arme man amper ‘n apopleksie besorg tydens ‘n oefening op Shoprite se parkeerterrein net voor my vierde toets. Daar slaat ek toe ‘n volslae “blank” met die gang- en par parkering, die driepuntdraai – en ek kan van ‘n voorrit-inspeksie net mooi niks onthou nie. En natuurlik het ek weer tydens die toets ‘n paar paaltjies gepiets … En so word ek ‘n klad op Speedy se naam, dien sy onbesproke rekord ‘n nekslag toe. Scheronda het my stroef en woordeloos by die huis gaan aflaai, vóór ek weer ‘n volgende toetsdatum kon bespreek. En terwyl die uurglas meedoënloos leegloop, beland ek by die jonkman Waldemar Prins, niemand anders nie as die seun van Kiepie die Cowboy, wat my ‘n dekade gelede probeer touwys maak het … Ek en ou Waldie het heel goed gekliek en daar het ‘n vonkie hoop in my hart ontbrand. Maar toe verval my learner’s weer … Ai, ek al bitterlik oor al hierdie mislukkings geween - veral toe ek my eerste learners en my vierde bestuurstoets gedop het. Maar dan vee ek maar weer die trane af en lag lekker vir myself. Ek het ‘n storie om te vertel – een wat mense hopelik sal laat laat lag. Want ‘n bedremmelde druipeling van vyftig is immers baie snaakser as ‘n whizz kid van 18 wat dadelik deurkom … of hoe? En watwo, ou Piepsie het van my gehou. Ek kies om myself die voordeel van die twyfel te gee en glo graag dus dat die miniskule, neurotiese brakkie kon aanvoel ek is eintlik ‘n heel gawe antie, al hoort ek dalk nie agter die wiel van ‘n mouterkar nie – om my pa verbatim aan te haal. Word vervolg – Die merkwaardige verhaal van Cha Sa-soon

1 comment:

  1. Dorette, some people are just not meant to drive! You are meant to write and entertain people. Keep doing it!

    ReplyDelete